Historiese Oorsig

Alhoewel daar lank reeds onderrig op primêre vlak plaasgevind het, is die eerste opgetekende pogings wat aan die gang gesit is vir sekondêre onderrig, die wat dateer uit 1929. Hierdie proses sou lank sloer en eers in 1938 sou Vredendal sy eerste sekondêre skool kry: 37 standerd 7-leerders en twee onderwysers met as skoolhoof mnr FC Rust. Laasgenoemde sou hierdie pos vir 25 jaar beklee.

Die skool het gou te groot geword vir die kerksaal van die NG Kerk, maar dit sou eers op 8 Mei 1941 wees dat die trek na die eerste ware skool (‘n gedeelte van die huidige laerskool) kon plaasvind. Oor die jare sou konstante groei sorg vir baie uitbreidings aan die geboue, maar toe die primêre afdeling in 1951 by die Hoërskool Vredendal ingelyf word, het dit gou duidelik geword dat die bestaande geboue nie voldoende is nie. Vertoë is aan die Departement gerig en in Januarie 1969 skuif die hoërskool na sy huidige standplaas-erf nommer 199, Grensstraat, Vredendal.

Hoërskool Vredendal het homself gou gevestig as skool van uitnemendheid op nie net akademiese gebied nie, maar ook op sport- en kulturele gebied. Jaarliks lewer Dallers uitstekende prestasies en is dit algemeen bekend dat Hoërskool Vredendal ook deur instansies soos die Universiteit Stellenbosch gereken word as instelling met besonderse hoë akademiese standaarde. Die skool spog ook gereeld met leerders wat provinsiale sowel as nasionale kleure verwerf.

Die skool poog om op konstante basis aan die behoeftes van die leerders te voorsien en word probeer om, ten spyte van die hoë kostes, die geriewe op ‘n hoë standaard te hou en uit te brei waar moontlik. So het die skool oor die jare ‘n moderne mediasentrum, ‘n goedtoegeruste houtwerklokaal, ‘n nuwe laboratotium, moderne rekenaarlokaal en baie onlangs ‘n nuwe sportsentrum tot die bestaande strukture toegevoeg. Die nuutste toevoeging waarmee die skool kan spog, is die moderne danslokaal wat in 2010 in gebruik geneem is.

Belangriker egter as enige struktuur, is die feit dat Suid-Afrika en ander dele van die wêreld vol is van leerders wat hierdie skool hulle Alma Mater noem. Leerders wat op besonderse wyse reeds diep spore in elke faset van die samelewing getrap het. Leerders vir wie die leuse: Elke dag jou plig, ‘n lewensrealiteit is.

Mag julle altyd met besonderse deernis terugkyk na Hoërskool Vredendal.