Ouerbetrokkenheid by Hoërskool Vredendal is iets waarop die onderwyskorps sowel as die skoolbestuur ‘n baie hoë premie plaas. Ouers word aangemoedig om betrokke te raak by skoolaktiwiteite en daar word gereeld van ouers se hulp op verskeie terreine gebruik gemaak.
Die amptelike Ouervereniging se verteenwoordigers word verkies ooreenkomstig die graad waarin daardie ouer se kind is. Ons het dus verteenwoordigers vir elke graad in die skool. Vanuit hul geledere kies hulle ‘n bestuur wat bestaan uit ‘n voorsitter, onder-voorsitter, sekretaris en ‘n tesourier. ‘n Aangewese onderwyser tree saam met die Ouervereniging as skakel tussen die skool en dié vereniging op. Vergaderings word gereeld voor groot byeenkomste, waarby die Ouervereniging betrokke is, gehou. Hierdie vereniging probeer om soveel as moontlik ouers by die verkopings wat hulle op ‘n gereelde basis hou, te betrek.
Die Beheerliggaam word volgens wet verkies en bestaan uit 7 ouers wat op hulle beurt die belange van alle ouers en leerders betrokke by die skool dien. Twee vergaderings per kwartaal word gehou waartydens ‘n verskeidenheid sake rondom skoolbestuur aangespreek word. Hulle is ook verantwoordelik vir die skool se begroting en die vasstelling van skoolgeld asook die benoeming van onderwysers vir onderwysposte. ‘n Rol wat deesdae al meer navore tree, is die inspraak in dissiplinêre aangeleenthede.
Ouers word, soos benodig, aangewend in ‘n toesighoudende hoedanigheid wanneer onderwysers dalk afwesig is en daar nie genoeg personeel is om die afwesige se klasse te hanteer nie.
Daar word ook van ouers gebruik gemaak by sportafrigting. Verskeie sportsoorte wat by die skool aangebied word, maak van ouers se kundigheid gebruik.
Ouers bied ook hul hulp aan om sekere take by die skool te verrig. Ons dink hier aan ouers wat hul apparaat en werkers beskikbaar stel vir die sny van gras, ligte grondverskuiwingswerke, die skoonmaak van skoolbanke, die herstel van skooltoerusting, ens.
Sonder die hulp van ouers sal die skool beslis nie doeltreffend kan funksioneer nie.