GEDRAGSKODE
SKOOLREËLS, SKOOLREËLINGS EN STRAFMAATREËLS
Opgestel in ooreenstemming met die voorskrifte gestel deur Die Suid-Afrikaanse Skolewet
(Wet 84 van 1996 soos gewysig deur Wet no. 31 van 2007) soos onderskryf deur die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Skoolonderwys (Wet 12 van 1997)
Te enige tyd of plek word van elke leerder verwag om vriendelik, behulpsaam en met die nodige eerbied en respek teenoor onderwysers en lede van die publiek op te tree. Leerders moet voorbeeldig en ordelik optree volgens die algemeen aanvaarde gedragsnorme van die skoolgemeenskap. Leerders moet dan ook getrou wees aan hul skool, hul skool lojaal ondersteun en altyd hul skool se naam hoog hou.
Leerders moet alle opdragte van onderwysers nakom, alle wettige opdragte van prefekte en klasverteenwoordigers uitvoer en die skoolreëls en skoolreëlings stiptelik nakom.
Indien leerders enige van hierdie reëls of reëlings nie sou nakom nie, sal daar teen sodanige leerders opgetree word en wel op die wyse soos onder die Tugmaatreëls vir Leerders, in dié dokument aangedui.
Daarteenoor word leerders wie se gedrag voorbeeldig is en wat op watter wyse ook al ‘n bydrae lewer om die skool se naam uit te bou, daarvoor erkenning gegee, deurdat so ‘n leerder self daartoe bydra om ‘n goeie getuigskrif te verkry wat ‘n groot rol speel by skoolverlating as aanbeveling tot ‘n werkaansoek of tot beurse en verdere studie.